www.mtn.co.za
 

Die Varingfees het in 2004 ontstaan, en het in die afgelope jare ontwikkel tot een van die bestes in die land. Dit wat aanvanklik bedoel was as ’n eenmalige geldinsamelingspoging vir die Proteahoogte-gemeente, wat in die kerksaal sou gebeur, het binne weke ontwikkel tot ’n groot fees op die Laerskool Bastion se rugbyveld. Daar is begin met ’n gedagte van een of twee kunstenaars wat sou optree, maar 18 top-kunstenaars het opgetree, en ongeveer 6000 mense het die fees bygewoon. Dit het nie daar opgehou nie - elke jaar het die fees gegroei in terme van kunstenaars en bywoningsgetalle.
Laasgenoemde is nou al rondom 20 000.

Van waar die naam Varingfees? Die fees is ’n Brackenfell-fees. “Bracken” beteken oorspronklik varing, en “fell” beteken koppie. Die fees vind dus plaas by die varingkoppie, en wat kan meer beskrywend wees as die Varingmusiekfees? Wat die fees van ander feeste onderskei is dat dit daarop ingestel is om ’n gesinsfees te wees. Daar word moeite gedoen om die fees bekostigbaar te hou vir die gesin. ’n Pretparkmet ’n groot verskeidenheid speletjies vir klein en groot, en stalletjies waar die hele gesin kan rondsnuffel en koop, is ’n vanselfsprekende deel van die fees. Moet ook nie vergeet van al die kosstalletjies waar daar na hartelus gesmul kan word nie!

Van die begin af is besluit dat dit ’n sober fees moet wees. Niemand word toegelaat om alkoholiese drank by die hekke in te bring nie, en daar word geen alkohol verkoop nie. Die bedoeling is dat gesinne met vrymoedigheid die fees kan bywoon sonder die vrees dat hul kinders met alkohol en die gevolge daarvan te doen sal kry. Hieroor kry ons gedurig positiewe terugvoer, nie net van feesgangers nie, maar ook van die kunstenaars. Arno Jordaan sê dat hy “lanklaas so lekker ge-show het met die wete dat die gehoor nugter is en hom geniet vir dit wat hy vir hulle kon gee, en dat hy ’n slag sy talent met nugter mense kon deel”. Steve Hofmeyr sê: (2006) “Ek sing al dekades nie meer net vir kanniedood-twintigjariges nie. En wat gebeur toe? 15 000 tot 20 000 Kapenaars sit bankvas vanaf 11:00 tot 12:30 in die oggend, in wat my persoonlike konsert van die jaar was”.

Die Varingfees is nie ’n gospel fees nie, maar ons wil tog die boodskap uitdra dat Christene die lewe voluit mag leef en geniet as ’n gawe uit God se hand. Alles behoort aan Hom, en ons kan Hom met alles vereer. Elke kunstenaar ontvang sy of haar talent van die Here en, of hulle dit doelbewus doen of nie, elkeen vertel iets van Sy grootheid wanneer hulle dié talente gebruik. Al doen ons dit anders, kan ons net so lekker feesvier en musiekmaak. Baie mense vertel van die wonderlike gees wat daar op die fees heers. Sondae sluit ons af met gospelmusiek en ’n diens tot eer van die Here. Die toegang hiervoor is gratis.

’n Wonderlike uitvloeisel van die fees is dat die kerk en gemeenskapsorganisasies grootliks by die fees gebaat het. Aanvanklik is daar noodsaaklike verbeteringe by die kerkgebou aangebring, maar eie aan ons missie het die omgee uitgebrei na organisasies buite die gemeente, waar die klem tans val - organisasies soos Sarfat, (Bloekombos), Die Ark, Villiersdorp-uitreike, en verskeie projekte in Nacala in Mosambiek.

Omdat die fees nie-winsgewend bedryf word, is letterlik honderde duisende rande beskikbaar gemaak, en werk is gedoen wat andersins nooit aangepak sou kon word nie. Die fees het so gegroei dat ons hierdie jaar na ander gronde verskuif, naamlik die Hoërskool Brackenfell se sportgronde. Maar die fees bly dieselfde!

Kom geniet dit weer saam met ons, en help tegelykertyd ander mense wat minder bevoorreg is.


 

Computicket besprekings

Doen nou aansoek vir jou stalletjie!

Stembus

Vind ons op Facebook

Twitter


 
© Kopiereg 2010 | MTN Varingfees | Alle regte voorbehou
Webtuiste geskep deur Krystal IT Solutions